The story below ran in Beeld and Die Burger on 30 September 2009
Wednesday, 30 September 2009
By: André le Roux

Media24-Afrika-kantoor

’n Zoeloe-ritueel waartydens jong mans ’n lewende bul met hul kaal hande uitmekaar skeur, is op ’n internasionale konferensie van tien Afrika-lande in Kenia veroordeel.

’n Petisieveldtog is verlede week by die eerste pan-Afrika-konferensie oor dierewelsyn in Nairobi van stapel gestuur om die Suid-Afrikaanse parlement te oorreed om ’n einde aan dié ritueel te maak.

Dit vind volgens me. Louise van der Merwe van die organisasie Compassion in World Farming op die eerste Saterdag van Desember in Koning Goodwill Zwelithini se teenwoordigheid by Nongoma in KwaZulu-Natal plaas.

Die ritueel staan bekend as Ukweshwama (die fees van die eerste vrugte) en maak deel uit van Ukubuthwa, ’n groter geleentheid, waartydens die Zoeloe-koning sy militêre regimente saamroep, sê mnr. Sbu Mseleku, ’n kenner van Zoeloe-kultuur.

“Tydens die ritueel word ’n groot, swart bul uit die koning se eie kuddes gekies en in ’n kraal gejaag waar tien jong Zoeloe-krygers hom kaalhand takel, plattrek en verskeur.” Dit vind volgens Mseleku nie meer gereeld plaas nie.

Die internasionale petisie teen dié Zoeloe-gebruik is geteken deur verteenwoordigers van Somalië, Uganda, Egipte, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Nigerië, Suid-Afrika, Ethiopië, Tanzanië, Sierra Leone en Zimbabwe.

“Ons agiteer al drie jaar lank in die parlement teen die gebruik,” sê Van der Merwe.

Sy het korrespondensie daaroor tussen haar organisasie en dr. Pallo Jordan, voormalige minister van kultuur, aan Beeld beskikbaar gestel.

In dié e-poswisseling in April vanjaar sê Jordan Suid-Afrika se Grondwet bevestig kulturele en godsdienstige vryheid.

“Sommige mense in Suid-Afrika beskou die fees van die eerste vrugte as heilig. Dit sluit gebruike in wat ander Suid-Afrikaners as afstootlik, wreed, brutaal, heidens en barbaars beskou.

“Sommige Suid-Afrikaners besny hul seuns in die eerste maand ná geboorte. Ander sal dit as kindermishandeling . . .  en onmenslik beskou.

“Ja, ons kan wel dink dit (die Zoeloe-ritueel) is barbaars, maar die Grondwet verplig my om dit te respekteer.”

Kommentaar kon nie van me. Lulu Xingwana, huidige minister van kuns en kultuur, verkry word nie.

André le Roux,
Africa Editor Media24
Mobile: +27832697126
Office: +27117139180
E-mail: This e-mail address is being protected from spam bots, you need JavaScript enabled to view it
Address: Media24, MediaPark, 69 King's Way, Auckland Park, Johannesburg, South Africa
Area Code: 2006